Marico Engelbrecht Familiebond

'n Familiebond van Engelbrecht's met ons wortels uit die Marico uit

Konstitusie van die Marico Engelbrcht Familiebond




Doel van hierdie dokument

Hierdie dokument het ten doel om die konstitusie van die Engelbrecht-Familiebond formeel te formuleer.

Konstitusie van die Engelbrecht-Familiebond

1.1 Naam

Die bond sal bekendstaan as die Marico Engelbrecht Familiebond en word verder slegs die Bond genoem. Die Bond is met regspersoonlikheid beklee en kan in sy eie naam as eiser of verweerder in gedinge optree. Verder kan ook in die naam van die Bond die handelinge verrig word ter bereiking van sy missie.

1.2 Visie

Die visie van die Bond is om samehorigheid, sosiale kontak en familietrots onder lede van die Engelbrecht familie te bevorder.

1.3 Missie om die visie te verwesenlik

  1. Die ontwerp en registrasie (in samewerking met die Buro vir Heraldiek) van 'n Bondswapen waarop lede 'n gebruiksreg het.
  2. Die byhou van 'n familieregister met kontakbesonderhede.
  3. Die byhou van 'n register van familie-artifakte.
  4. Die reël van familiebyeenkomste en jaarlikse ledevergaderings.
  5. Die verspreiding van 'n kwartaallikse elektroniese nuusbrief onder lede.
  6. Die daarstel van 'n familiegeskiedenis wat toeganklik sal wees vir lede.
  7. Die aanwending van sosiale media om kontak tussen lede te behou en uit te bou.

1.4 Bestuur

Die Bestuur van die Bond sal bestaan uit minstens vyf lede wat die volgende ampte insluit:

  • ‘n Voorsitter wat deur lede van die bestuur gekies word. In geval van 'n staking van stemme op 'n Bestuursvergadering het die Voorsitter 'n beslissende stem.
  • ‘n Onder-Voorsitter wat saam met die Voorsitter as dagbestuur optree om sake te behartig wat deur die Bestuur opgedra word.
  • ‘n Sekretaris wat verantwoordelik is vir die opstel van vergadering agendas, byhou van notules. Voorts moet die Sekretaris die lederegister byhou. Vertroulike kontakbesonderhede van lede is onder beheer van die Sekretaris.
  • Gewone bestuurslede vergader saam met die ander bestuurslede en het ook stemreg ten opsigte van die ampte van Voorsitter, Onder-Voorsitter en Sekretaris. ‘n Lid van die Bestuur kan tot meer as een Bestuursamp benoem word, maar nie meer as twee nie.

Lede van die Bestuur word op ‘n algemene ledevergadering gekies. Vakature wat ontstaan weens die uittrede van ‘n lid word deur die oorblywende Bestuurslede aangevul tot die volgende algemene ledevergadering.

‘n Kworum tydens Bestuursvergaderings word gevorm deur die helfte plus een van die bestuurslede. Die Bestuur is verantwoordelik vir die reël van familiebyeenkomste. Die tyd, plek en gereeldheid is volgens goeddenke van die Bestuur. Aansoeke om lidmaatskap word deur die Bestuur goedgekeur. Die Bestuur is ook by magte om bestaande lidmaatskap op te skort.

Die ontwerp van ‘n heraldiese wapen wat deur die lede van die Bond gebruik mag word, is volgens die goeddenke van die Bestuur. Hierdie wapen sal as na behoorlike registrasie ‘n familiewapen beskou word. Die registrasie van die wapen by die Buro vir Heraldiek is die verantwoordelikheid van die Bestuur.

Wysigings aan die konstitusie kan slegs deur Bestuurslede tydens ‘n Bestuursvergadering en volgens stemming plaasvind.

Die Bestuur het die volgende bevoegdhede ter bereiking van die Bond se missie:

  • Om roerende en onroerende goedere te aanvaar, verkry, koop, verkoop, huur, verruil, transporteer of ontvang by wyse van 'n donasie of andersins en om die gelde van die Bond by goedgekeurde handelsbanke te belê.
  • Om in die algemeen aan die doelstellings van die Bond, volgens eie goeddunke, uitvoering te gee.
  • 'n Geding in die belang van die Bond in te stel en enige geding wat teen die Bond ingestel word te verdedig.

Die registrasie van ‘n Nie-Winsgewende Organisasie om die Bond se belange te beskerm en om as regspersoon op te tree, word aan die Bestuur opgedra.

1.5 Lidmaatskap

Enige nasaat van Coert Nicolaas Engelbrecht (gebore 28 April 1938) en Dinah Louisa Dorothea Vermeulen (gebore 4 Januarie 1941) wat 18 jaar en ouer is kan aansoek doen om lidmaatskap deur die vereiste vorm in te vul. Onder nasate word ook enige aantroude en aangenome kinders bygereken. Enige kinders (onder die ouderdom van 18 jaar) van goedgekeurde lede het outomatiese lidmaatskap. Lidmaatskap is onderhewig aan die goedkeuring van die Bestuur. Die Bestuur is ook by magte om lidmaatskap op te skort.

Geregistreerde lede wat 18 jaar en ouer is het stemreg op algemene ledevergaderings, waar elkeen een stem het. Wysigings aan vereistes tot lidmaatskap kan slegs deur die Bestuur van die Bond aangebring word. Lidmaatskap is lewenslank tensy opgeskort deur die Bestuur word.

Lidmaatskap sal nie onderhewig wees aan die betaling van ledegeld nie. Persone wat nie nasate is van Coert Nicolaas Engelbrecht (gebore 28 April 1938) nie, maar wel van Hermanus Stefanus Engelbrecht (gebore 11 Maart 1910), kan ook as lede aansluit. Sulke lede het egter nie stemreg op ledevergaderings nie en kan ook nie op die Bestuur dien nie. Hierdie lede mag wel ledevergaderings bywoon en sal reg hê op die gebruik van die Bondswapen.

Vrywaring van lede: Die Bond vrywaar sy lede teen enige aksie die ingestel kan word teen 'n lid wat voortspruit uit aktiwiteite van so 'n lid, in belang van die Bond. Sodanige aksie moet teen die Bond ingestel word wat die aksie in eie naam sal voer.

1.6 Fondse van die Bond

Lidmaatskap is nie onderhewig aan die betaling van ledegeld nie. Derhalwe word daar nie voorsiening gemaak dat die Bond van enige noemenswaardige fondse sal beskik nie. Waar daar wel fondse benodig word vir byeenkomste en die koste verbonde aan die registrasie van ‘n Bondswapen, sal slegs van vrywillige donasies gebruik gemaak word. Slegs besonderhede van sulke bedrae sal tydens die algemene ledevergaderings bekend gemaak word.

Die eerste finansieële jaar strek vanaf datum van stigting tot 28/29 Februarie en daarna vanaf 1 Maart tot 28/29 Februarie, jaarliks. Die bestuur kan na goeddunke 'n bankrekening oopmaak in die naam van die Bond waarin alle gelde waaroor die bestuur beheer het, gestort word. Jaarlikse state van so ‘n rekening moet aan die bestuur voorgelê word.

1.7 Ledevergaderings

Ledevergaderings word deur die bestuur belê word en een-sewende van die volwaardige lede van die Bond kan ‘n skriftelike versoek, met motivering, tot die bestuur rig dat 'n ledevergadering belê word. Een/sewende van die getal volwaardige lede of vyftig (welke getal die kleinste is) vorm 'n kworum op 'n ledevergadering. Die Voorsitter van die Bestuur of in sy afwesigheid, die Voorsitter van die vergadering sit by sodanige vergadering voor en by staking van stemme het hy 'n beslissende stem. Die gereeldheid asook tyd en plek is onderhewig aan die besluite van die Bestuur. Lede sal sover moontlik in kennis gestel word van enige ledevergaderings voor so ‘n vergadering. Die agenda van elke vergadering sal deur die Bestuur bepaal word. Gedurende ledevergadering sal kortliks notule gehou word van die vergadering deur die Sekretaris van die Bestuur.

1.8 Wysigings aan die konstitusie

Wysigings aan die konstitusie kan slegs deur Bestuurslede tydens ‘n Bestuursvergadering en volgens stemming plaasvind.

1.9 Ontbinding

Indien die Bond vir enige rede sou ophou om te bestaan, sal enige van nasate van Coert Nicolaas Engelbrecht en Dinah Louisa Dorothea steeds geregtig wees om die wapen van die Bond as familiewapen te beskou en te gebruik. Die Bond kan op die volgende wyse ontbind word: Kragtens 'n besluit van 'n twee-derde meerderheid van volwaardige lede geneem op 'n ledevergadering spesiaal vir dié doel byeengeroep. By ontbinding word die Bond se bates te gelde gemaak deur 'n likwidateur aangestel deur lede en nadat die skulde wat daar mag wees, vereffen is, verdeel die likwidateur die opbrengs van die bates soos hy opgedra word of deur die ledevergadering wat besluit het dat die Bond ontbind moet word, af aan alle lede gegee.

Plekke uit ons geskiedenis

Engelbrecht tydslyn

Interessanthede

Muur van herinnering

Voor- en Nageslagte